Winde van verandering

WINDE VAN VERANDERING Kopiereg Lynne 2019

As die wind so waai voel Maureen altyd onrustig.  Wat haar besiel het om Kaap toe te trek weet sy nou nog nie.  Sy moes net doodeenvoudig weg uit daardie dorp, weg van Johan af, weg van sy siek speletjies.  Hy sou nooit ophou nie.  Nie ‘n interdik of ‘n nag in die selle kon hom stuit nie, maar Kaap toe?  Daar is tog soveel ander plekke waarheen sy kon gaan, plekke met minder wind.

Die ou huis wat sy gehuur het was pragtig, soveel karakter en so ideaal vir haar as kunstenaar, maar as die wind so waai kraak en klap alles.  Sy het al ‘n arbeider ingekry om elke dakplaat en elke venster, deur en hortjie na te gaan, maar steeds steun en kreun die ou huisie in die wind.

Vanaand verbeel sy haar sy hoor ‘n geluid wat sy nie voorheen gehoor het nie.  Eers het sy gedink dit is ‘n uil, later ‘n kwaadkat opsoek na ‘n wyfie vir die nag, maar hoe langer sy luister hoe eienaardiger het die geluid geraak. Toe Maureen dit nie meer kon verduur nie, staan sy op, sit ‘Pavarotti and Friends’ in die CD speller en draai die volume op.

‘n Skielike slag wat tot Pavarotti laat hik, verbreek die vrede. Maureen staan versteen in die middel van die sitkamer.  Toe sy uiteindelik herstel van die skrik en sy weer logies kan dink besef sy dat dit net die ou boom tussen haar en die Kahn’s kan wees, moontik ‘n tak wat afgebreek het in die wind.

Steeds bewerig gaan skakel sy die buitelig aan en loer deur die venster.   Maureen is verbaas toe sy sien dat die boom, nog in een stuk, liggies in die wind wieg.

Sy was laas so ontstig toe sy een dag, kort na haar egskeiding, van die werk af gekom het en haar woonstel in ‘n warboel gekry het.  Al die kasdeure was oop, haar klere deur die hele woonstel gestrooi, haar CDs en tydskrifte het oral rondgelê. Daar was nie ‘n enkele onaangeraakte item in haar plekkie nie. Die polisie het ure later eers opgedaag, maar toe sy vir hulle sê dat sy nog geen vermiste items kon aanmeld nie het hulle belangstelling verloor en traag haar verklaring geneem.  Mismoedig het sy besef dat geen moeite gedoen gaan word om die persoon verantwoordelik vir die chaos te probeer opspoor nie.  Nou voel sy soos sy daardie aand gevoel het, bang, mismoedig en baie alleen.

Soos altyd wend Maureen haar ook vanaand na haar kuns om haar hande en kop besig te hou. Die reuk van die terpentyn, olieverf en die kwas in haar hand was nog altyd haar lewenslyn, dit waaraan sy vas geklou het selfs toe sy gevoel het dat haar lewe nie meer enige iets werd was nie.

Ongeag van vroeër se groot skrik raak sy tog verdiep in haar werk.  Die kleure in die rok van die vrou op haar doek vloei uit haar kwas. Sy verlustig haar aan die diep skakerings van rooi wat sy so pas neergelê het toe sy uiteindelik in die vroee ure van die oggend terug staan om haar handewerk te beskou.

Sy skrik uiteindelik wakker en verwens haarself toe sy sien dit is reeds half tien.  Sy het ‘n afspraak om ‘n gallery eienaar om elfuur te sien.  Maureen spring in die stort, was haar hare en wend klein bietjie grimering aan.

Haar motortjie staan nou al dae onaangeraak in die motorhuis en Maureen verwens haarself weer ‘n keer toe sy die laag stof op die bakwerk sien.  Daar is egter nie meer tyd oor om die motortjie af te spuit nie en sy klim maar in en draai die sleutel.  Ou Kanniedood spring aan die brand en luier rustig, maar toe sy agteruit trek besef sy dadelik daar is fout. Die motortjie hop mank by die motorhuis uit. ‘n Pap wiel is die laaste ding wat sy nodig het, maar dis inderdaad haar voorland. Eers het sy gehoop sy kan net gou die pomp in haar sigaretaansteker indruk en haar wiel op pomp, maar een kyk na die band en haar hoop verdwyn soos mis voor die son, die band het ‘n lang sny in en sou moes af.  Gelukkig het sy ‘n nuwe spaarwiel in die kattebak.

Maureen is nog al die jare gewoond om haar eie ding te doen. Johan was miskien die ideale man vir die buurvrou en die ideale vriend vir sy vriende maar om hom te kry om iets vir haar te doen was ‘n  missie.  Alles anders was altyd belangriker.  Stadig maar seker het sy ophou vra en begin om alles, sover moontlik, self te doen.  Aanvanklik het hy vir haar kwaad geword en haar geskel, vir haar gesê sy is te ongeduldig, maar later het dit ‘n gewoonte geraak.  Sy het later selfs die swembad skoongemaak en die gras gesny terwyl hy saam met vriende op hul motorfietse oor naweke rond rinkink of hy vir ander mense stowe and lugreelings herstel.

Maureen was dus gewoond aan bande ruil ook.  Vanoggend egter wens sy sy het nie nodig gehad om dit te doen nie.  Sy was reeds netjies aangetrek, gereed om haar afspraak na te kom.  Nogtans haal sy maar die spaarwiel uit en hys die motortjie op.  Sy was nog nooit so dankbaar soos vanoggend dat sy toe vir haar ‘n domkrag wat sy met die voet kon trap gekoop het nie, want wragties as sy nou nog met die ou domkrag moes sukkel sou sy sweerlik weer ander klere moes gaan aantrek.  Maureen druk haar hare agter haar ore in en begin pomp.  Die motortjie hys stadig die lug in.

Morning Mrs van der Merwe… I see you have some trouble this morning.” Mr Kahn van langsaan is al ver oor sy middeljare en afgetree, maar steeds hiper fiks en ooglopend gesond.

I am afraid so … Ek het ‘n afspraak in die stad, maar nou weet ek nie of ek dit betyds gaan maak nie.”

“Kom laat ek help, dan kan jy die mense bel en sê jy gaan bietjie laat wees.”

Dis die beste voorstel wat Maureen nog in ‘n lang tyd gehoor het en dankbaar staan sy terug sodat Mr Kahn by haar kan oorneem.

Die gallery eienaar is gelukkig vriendelik en se Maureen hoef nie te stres nie, sy het nie ander afsprake vir die oggend nie en Maureen kan gerus maar haar tyd neem, solank sy net voor middagete arriveer.

Mr Kahn is in ‘n japtrap klaar en staan die band fronsend en bekyk toe Maureen terug draai na hom toe.

My word Mrs van der Merwe, wat het hier gebeur?”

“Nee ek weet nie Mr Kahn.  Die motortjie het laas toe ek met hom gery het niks makeer nie.”

“Laat jy dan gaan Mrs van der Merwe, maak net seker om ‘n nuwe spare te kry oppad terug…”

Maureen belowe plegtig dat sy so sal maak en trek uiteindelik weg.

Vir die volgende twee ure het Maureen nie tyd om oor die hoekoms en waaroms van die beskadigde band te dink nie.  Die gallery eienaar is beindruk met haar werk en stem in dat Maureen vyf van haar werke in die gallery kan uitstal, sy stel ook voor dat Maureen begin voorberei vir ‘n solo uitstalling oor so vier maande.  Die gallery se kommissie struktuur is ook goed en verlig stap Maureen uiteindelik daar uit.

Opad na die bande handelaar begin Maureen te wonder oor die beskadigde band.  Sy kan nie onthou dat sy oor iets gery het nie. Dit laat haar ook wonder oor die slag wat sy die vorige aand gehoor het.  Mr Kahn het niks daaroor gesê nie, maar miskien het hy net nie daaraan gedink nie, of dalk het hy dit nie gehoor nie.

Terug by die huis trek Maureen haar motortjie in die motorhuis en maak dubbeld seker dat sy die motorhuisdeur sluit. Haastig om aan die werk te kom drafstap sy die gang af om iets anders te gaan aantrek, maar toe sy verby haar studio deur loop stop sy in haar spore.  Die deur is oop en sy kon sweer sy het dit die vorige nag toegetrek. Sy voel hoe haar hart in haar keel bons toe sy inloer.  Al haar voltooide skilderye lê die vertrek vol gestrooi, sommige onherstelbaar beskadig. Maureen voel hoe die trane in haar oe opwel. Die skilderye was jare se werk aangesien sy nog tot voor sy Kaap toe getrek het ook voltyds as grafiese kunstenaar gewerk het.  Sy kan eenvoudig nie glo dat enige iemand so gemeen kon wees nie, selfs nie Johan nie.  Terwyl sy begin optel aan die stukke bid sy hardop dat daar tog ‘n paar ongeskonde gebly het aangesien sy die gallery eienaar belowe het dat sy vyf werke in die volgende week sou aflewer.

HOOFSTUK 2

Slegs twee van haar voltooide werke was onbeskadig en ‘n derde kon gelukkig nog herstel word, maar die res was ‘n versplinterde en geskeurde gemors.  Eers nadat sy alles opgetel het dink Maureen daaraan dat sy eers die polisie moes gebel het. Haar trane het haar maskara strepe oor haar wange laat loop. Sy besluit om eers haar gesig te gaan was voor sy die polisie bel.

Na ongeveer ‘n uur daag daar twee konstabels op. Soos voorheen verduidelik Maureen die situasie.  Sy besluit om hulle ook van die beskadigde band te vertel hoewel die moontlikheid natuurlik bestaan dat sy nie opgemerk het dat sy oor iets gery het nie. Sy vertel ook aan hulle dat iets soortgelyks reeds met haar in haar tuisdorp gebeur het.  Hierdie keer neem die twee konstabels haar erenstiger op en die vroue konstabel vra of hulle êrens kan gaan sit om haar verklaring te neem. Toe die verklaring eindelik voltooi is vra die vrouekonstabel dat Maureen nie verder in haar studio moet karring nie aangesien hulle vroeg die volgende oggend ‘n vingerafdruk tegnikus sal stuur. Hulle vra ook of sy sal omgee as hulle die bure gaan vra of hulle in haar afwesigheid iets opgemerk het. Maureen weet dat Mr Kahn nie sal omgee om te help as hy kon nie en sê dat hulle gerus so kan maak.

So hartseer as wat sy is oor haar verlore werk jeuk Maureen se hande om aan die werk te spring.  Tot dusver kon sy geen beter manier vind om haar hartseer en ongelukkigheid te verwerk nie.  Gelukkig onthou sy van die twee nuwe doeke wat sy gekoop het en wat steeds teen die muur in haar motorhuis staan.  Sy sou graag eerder die doek op haar esel wou voltooi wat wonder bo wonder nie vernietig is nie, maar besluit om tog die polisie te gehoorsaam en ten minste dan tot die volgende dag uit haar studio te bly.

Nadat sy die plastiek omhulsel afgetrek het maak Maureen die nuwe doek teen ‘n stapel boeke op haar kombuistafel staan.  Dit is nou nie die ideale werksomstandighede nie, maar die lig in die kombuis is goed en dit is beter as om glad nie te werk nie.

Terwyl Maureen terug staan om haar voorlopige skets te bekyk besef sy dat dit intussen skemer geraak het en dat sy nogal honger is. Sy het nog nie eers koffie gehad vandat sy by die huis gekom het nie en sy skakel die ketel aan.

Vir kook is sy glad nie lus nie en besluit om vir haar ‘n toebroodjie met kaas en tamatie te maak. Maureen deins terug toe sy die yskas oopmaak. ‘n Tamaai dooie rot lê op die boonste rak, sy kraal ogies starend na haar. Maureen voel hoe die een gil na die ander onwillekeurig in haar opstoot.  Sy slaan die yskas se deur toe en hardloop na die voordeur. Nog voor sy die deur kon oopmaak is daar ‘n klop aan die deur.  Maureen pluk die deur verwilderd oop. Mr Kahn is ook net betyds om haar te keer toe sy inmekaar sak.

“Mrs van der Merwe, Mrs van der Merwe… is jy okay?” Mr Kahn se stem bewe sommer van skrik.

Toe Maureen bykom lê sy op haar bank, toe sy vir Mr Kahn sien besef sy die ou man moes haar op ‘n manier tot daar gekry het.

“In my yskas Mr Kahn…” is al wat sy kan uitkry.

Mr Kahn kom effe bleek met iets in ‘n lap terug, Maureen raai dat dit die dooie rot moet wees.

“Mrs van der Merwe, hoe kom die in jou yskas?”

Maureen kan net haar skouers optrek.

Nadat Mr Kahn met die rot by die deur uit is begin Maureen bewe van skok. Drie insidente op dieselfde dag kan mos nie toeval wees nie. Maar wie sou haar so wou teister?  Die enigste persoon wat haar moontlik kon skade toewens is Johan en sedert die egskeiding deur is het sy nog nie weer met hom gepraat nie en beslis nie vir hom laat weet waarheen sy trek nie. Hoe sou hy haar kon opspoor? Sy het nie ‘n vaste werk nie, haar motortjie het ‘n nuwe Kaapse nommerplaat, sy het haar selfoon nommer verander… En wat staan haar nou te doen? Sy kan tog nie die polisie bel en sê sy het ‘n rot in haar yskas gekry nie.

Toe Mr Kahn skielik weer langs haar praat ruk Maureen soos sy skrik.  Sy was onder die indruk dat hy huis toe is nadat hy van die rot ontslae geraak het.

“Mrs van der Merwe… kan ons praat asseblief?”

“Ja Mr Kahn?”

“Mrs van der Merwe, ek en my ou vrou is bekommerd oor jou hier alleen in die huis.  Dinge is nie reg hier nie.  Eers jou motor se tyre vanoggend, toe die paintings wat beskadig is en nou die rot… dis nie reg nie Mrs van der Merwe.”

“Nee Mr Kahn, ek is nie dom nie en ek besef iets is nie reg nie, maar wat moet ek maak?”

“My vrou sê jy moet vanaand by ons kom bly.  More gaan ek my kleinseun bel, hy is ‘n private investigator, jy weet, soos daai Magnum guy op tv…”

“Dankie Mr Kahn, maar ek kan nie ‘n privaat speurder bekostig nie…”

“Nee, nee Mrs van der Merwe, ons praat nie nou daaroor nie.  Sluit jou huisie toe en kom rus eers. My vrou het baie lekker borscht mit cream gemaak, jy moet kom proe.”

Maureen voel sy kan huil van dankbaarheid teenoor die ou man en sy vrou.  Sy het nog steeds nie geëet nie en is beslis nie onder die omstandighede lus om enige iets in haar yskas te gebruik nie en ook nie om vanaand alleen by die huis te sit nie. Sy is bekend met die Jode se beetsop en vandat sy dit die eerste keer geëet het is sy dol daaroor.

Mr Kahn bied aan om vir haar te wag to sy haar oornag sakkie gepak het.

Maureen is nogtans hartseer toe sy haar voordeur sluit en bid dat wie ookal vroeër vandag in haar huis was tog nie sal terug kom en die bietjie van haar werk wat oor is ook ruïneer nie.

Sy word met ope arms deur Mrs Kahn verwelkom en word na die gedekte tafel in die eetkamer gelei nadat Mr Kahn haar oornag tassie by haar geneem het en na die gastekamer gevat het.

Dis duidelik dat die Kahns hard probeer om haar vir ‘n wyle te laat vergeet van haar sorge.  Mr Kahn vertel die een grap na die ander en Mrs Kahn vermaak Maureen met staaltjies oor hulle kleinkinders se jonger dae.

Na ete verskoon Mr Kahn homself en sê dat hy sy kleinseun vanuit die studeerkamer gaan bel.  Mrs Kahn wil niks daarvan hoor dat Maureen help met die skottelgoed nie en sê dat Maureen eerder ‘n lekker bad moet gaan neem, sy het reeds vir haar skoon handoeke in die gastebadkamer gesit. Mrs Kahn sê dat sy later vir Maureen ‘n glas warm melk kamer toe sal bring.

Maureen raak sommer betraand.  Sy was laas so gepamperlang toe sy nog ‘n kind in haar ouers se huis was.

Maureen het nie besef hoe moeg sy werklik was nie, maar toe sy in die bed klim en die donskombers oor haar trek voel sy hoe haar ooglede swaar raak en moet sy daarteen stry om nie aan die slaap te raak nie. Gelukkig kom Mrs Kahn die kamer binne kort nadat sy gaan lê het.  Die melk het ‘n klein bietjie kaneel in en Maureen verlustig haar aan die wonderlike aroma van die warm melk en kaneel.  Sy het egter skaars die melk in of haar oë val toe.

Toe Maureen wakker skrik sit die son reeds hoog.  Sy kan nie glo sy het so laat geslaap nie, dis nie haar gewoonte nie en gewoonlik is sy reeds dou voor dag in haar studio. Maureen trek blitsvinnig aan, was haar gesig en borsel haar tande en haas haar na die kombuis waar sy vir Mrs Kahn reeds hoor werskaf.

“Goeie more Mev van der Merwe.”  Mrs Kahn se wange is reeds rooi van voor die stoof staan.

“Mr Kahn is na jou huis om vir die vingerafdruk mannetjie te gaan oopsluit. Hy wou jou roep maar ek het gesê hy moet jou laat rus. Eet jy nou eers die bagel en roomkaas wat ek vir jou uitgehou het. Ons kleinseun sal ook vanmiddag hier wees om met jou te gesels.”

Terwyl Maureen nog besig is om te eet kom Mr Kahn die kombuis binne.  Hy lyk maar stug en skud net sy kop.

“Nee wat, die mannetjie kon niks in daardie studio van jou kry nie.  Daardie plek van jou is omtrent skoon gemaak, daar is nie eers van jou prints nie, deeglike werk gedoen wie ookal daar was. Ek kan nou nog nie glo dat ons niks gehoor of gesien het nie…”

HOOFSTUK 3

Dit is reeds na elf toe Maureen uiteindelik weer haar huis binnestap. Sy haas haar na haar studio. Sy het reeds soveel werkstyd verloor en het reeds besluit dat sy nie haar kans om by die gallery uit te stal wil of gaan prys gee nie, al slaap sy nie vir die volgende paar aande nie, sy is nie bereid om toe te laat dat die indringer haar toekoms ook vernietig nie.

Maureen is net klaar met die doek op haar esel, die ene van die vrou met die rooi rok, toe daar aan haar deur geklop word.  Mr Kahn en sy jonger weergawe staan op haar stoep en gesels toe sy die deur oopmaak.

“Mrs van der Merwe, hierdie is my kleinseun, Justin Kahn, die private investigator.”

Die jonger Kahn tree vorentoe en skud plegtig hande.  Maureen nooi hulle binne en stap vooruit sitkamer toe.

“My oupa het my reeds ingelig oor die gebeure hier die afgelope paar dae. Dit is my ondervinding dat so iets gewoonlik ‘n wraak motief het en as sulks het die slagoffer gewoonlik ‘n goeie idee wie vir die dade verantwoordelik kan wees. Mev van der Merwe, het u enige idee wie u skade sou wou aandoen?”

Maureen voel sleg om, veral voor die ouer Mr Kahn, haar verlede en geskiedenis met Johan uit te lap, maar besef dat sy geen ander keuse het as om dit te doen nie.  Sy vertel so kortliks as moontlik van haar eksman en sy teistering in die verlede.

“Wanneer laas het u van u eksman gehoor?”

“Kort voor ons egskeiding gefinaliseer is.  Ek kan nie glo dat hy tot sulke kriminele dade sal oorgaan nie.  Hy het simpel goed gedoen, my in die middel van die nag gebel, voor my woonstelblok in sy kar gesit, hy het my vriende gebel om te hoor of ek ‘n verhouding met ‘n ander man het, selfs my werk gebel met wilde aantygings, maar ek glo hy het teen die tyd al aanbeweeg.  Hy het n groot vriendekring en ek dink hy was meer in sy eer gekrenk toe ek hom verlaat het as wat hy werklik hartseer was.  Ons was vir ‘n lang tyd nie meer ‘n paartjie in die volle sin van die woord nie en het lank by mekaar verby geleef voor ons uiteindelik geskei is.”

“Mevrou, is daar enige iemand anders aan wie u kan dink wat u enigsens skade sou wou aandoen?”

“Nee. Noem my asseblief Maureen, die ge-mevrou is te formeel.”

“Nou goed Me…Maureen. Het jy dalk vir my ‘n foto, adres of telefoonnommer van jou gewese man? Aangesien ons geen ander leidrade het nie gaan ek by hom begin, miskien, as dit nie hy was nie sal hy ons tog na die regte persoon lei.”

“Nou goed.” Maureen staan op en gaan haal ‘n ou foto album in haar slaapkamer. Die laaste foto wat sy van Johan geneem het was tydens ‘n vakansie ongeveer twee jaar voor hul egskeiding. Maureen haal die foto uit en oorhandig dit aan Justin Kahn.

“Mrs van der Merwe, my vrou het gese jy is welkom om weer vanaand by ons oor te bly.”

“Baie dankie Mr Kahn en bedank asseblief ook vir Mrs Kahn, maar werklik, ek moet aan die werk kom.  Met die skilderye wat beskadig is sal ek moet wikkel om klaar te maak as ek teen volgende week genoeg werke wil hê om na die gallery te neem.”

“Nou maar dan stuur ek later vir Justin oor met aandete vir jou.”

Maureen bedank Mr Kahn en nadat sy die twee mans by die deur afgesien het haas sy haar weer terug na haar studio. Versigtig verwyder sy die voltooide skildery van haar esel en sit dit regop teen die muur. Sy vervang dit met die doek waaraan sy die vorige dag begin werk het en begin verf meng. Sy sukkel egter om te konsentreer en haar gedagtes bly dwaal na die afgelope paar dae se gebeure. Johan was baie trots op sy werk, sou hy werklik van sy werk wegbly en so ver reis om haar te kom verpes? Al het sy hom byna gehaat teen die tyd dat hul egskeiding voltrek is, kan sy haar steeds nie indink dat hy so ver sou gaan nie. In haar verbeelding sien sy hom eerder rinkink saam met sy vriende wat seker teen die tyd al ‘n meisie of twee aan hom voorgestel het.

Na ‘n ruk kry Maureen dit tog reg om haar aandag op haar werk te fokus. Die groen en donker skadus van die agtergrond trek haar in en so verdiep is sy in haar werk dat sy wip soos sy skrik toe iemand aan die venster reg langs haar klop.

“Maureen… is alles reg?” Justin Kahn lyk bekommerd.

Maureen loer na die muurhorlosie.  Dit is nog te vroeg vir Justin om vir haar aandete te bring.  Maureen beduie dat hy voordeur toe moet kom.

“Ek het geklop, maar jy het nie geantwoord nie…” Justin se hemp hang by sy broek uit en hy haal asem asof hy ‘n maraton gehardloop het.

“Wat is fout Justin? Wat het gebeur?”

“My oupa het na die voorhek gestap om hul pos te gaan haal toe iemand verby ry en ‘n skoot op hom afgetrek het… ek is vebaas dat jy niks gehoor het nie, toe ek klop en jy nie antwoord nie…”

“O liewe genade Justin, het Mr Kahn seergekry?” Maureen voel hoe sy verbleek en ‘n naarheid haar oorval.

“Gelukkig nie, my oupa is net kwaai geskok, maar andersins ongedeerd.  Ek dink nie hulle wou hom seermaak nie, net skrikmaak. As ek reg is beteken dit iemand hou jou dop, het gesien my oupa-hulle staan jou by en nou wil hulle hom die skrik op die lyf jaag… Ek was by my ouma in die kombuis en kon ongelukkig nie betyds buite kom om die motor te sien nie, maar my oupa sê dit was ‘n wit Corolla.  Ken jy dalk iemand met so motor?”

“Nee Justin, ek ken nie iemand met ‘n wit Corolla nie, maar ek dink ook nie iemand wat so iets aanvang gaan met hul eie motor ry nie…”

“Jy is reg Maureen… ek gaan more ry en met my ondersoek begin, maar intussen het ons die polisie laat weet en hulle is nou besig om ‘n verklaring van my oupa te neem.  Ongelukkig het hulle nie die mannekrag om jou en my oupa-hulle se huis dop te hou nie, ek het dus my kollega Moses Msimande gevra om vir ‘n dag of twee vir my in te staan.  Ek wil hê jy moet langsaan by my grootouers gaan bly tot ek terug kom. Moses kan ongelukkig nie albei huise gelyktydig dophou nie, dus sal jy sy taak vir hom vergemaklik as jy instem.”

“Nauurlik, ek verstaan, dis net… my werk… ek moet teen volgende week vyf skilderye aan die gallery lewer…”

“My oupa het so iets genoem ja.  Hy sê jy kan sy studeerkamer met hom deel tot ek terug is.” Justin glimlag en vir die eerste keer merk Maureen op hoe aantreklik hy eintlik is.  Justin is langer en groter as sy oupa gebou, maar het dieselfde kalfie oë en gul mond.

Justin en Maureen het net die laaste skildery en haar esel oorgedra na Mr Kahn se huis toe ‘n taxi voor die huis stil hou.  Die sterk geboude swartman klim uit.

“Moses, my vriend, wat het van die BMW geword?” lag Justin

“By die huis gelos. Ek reken as die huis dopgehou word is dit beter dat ek eerder na die tuinier as ‘n opgeleide lyfwag lyk…” Moses tik teen sy sy en Maureen merk die kenmerklike bult van ‘n vuurwapen op.

“Nou ja kom, laat ek jou na jou tuiniershut neem.” Lag Justin.  Die tuiniershut waarna Justin verwys is natuurlik die eenmanswoonstel agter in die Kahn’s se erf waar Justin self tuisgaan wanneer hy vir sy oupa en ouma kom kuier. Terwyl die twee mans laggend na die woonstelletjie loop draai Maureen om en gaan terug na die kombuis waar sy vir Mrs Kahn met die aandete help. Terwyl sy die aartappels skil wens Maureen dat dit nie vir Justin nodig was om die volgende dag weg te gaan nie. Ongeag van die skietvoorval vroeër voel sy tog veiliger met hom hier. Al wat sy egter kan doen is om te hoop dat Justin die raaisel vinnig oplos en gou terug kom.

HOOFSTUK 4

Maureen lê lank wakker, maar omdat die huis nog stil is besluit sy om nie op te staan nie.  Sy reik na ‘n boek langs haar bed, maar bedink haar, haar kop is so vol dinge dat sy tog nie sal kan konsentreer nie.  Net na ses hoor sy ‘n motor uittrek en wegry en besef sy dat dit Justin moet wees. ‘n Rukkie later hoor sy Mrs Kahn in die kombuis werskaf en staan sy op om aan te trek.

Mrs Kahn moes seker lankal al op gewees het, maar net baie saggies gewerk het want die geure van heerlike kos hang reeds in die lug toe Maureen die kombuis binne kom.

“Ai Mrs van der Merwe, ek hoop nie ek het jou wakker geraas nie.  Ek het vir Justin so bietjie padkos gepak.  Ek ken daardie kleinseun van my, as hy eers sy kop op ‘n ding het vergeet hy sommer om te eet.”

Maureen verseker Mrs Kahn dat sy reeds wakker was nog voor Justin gery het.

Terwyl hulle aansit vir ontbyt wonder Maureen waar Moses dan is.

“Die jong man het saam met Justin iets kom eet en is reeds besig in die tuin. Justin het hom juis vanoggend gevra of hy ooit weet wat om met ‘n tuinvurk te doen, maar ek het geloer, hy lyk nogal behendig met die ding.”  Mr Kahn lag lekker vir sy eie grap, die skrik van die vorige dag nou duidelik opsy geskuif.

Maureen spandeer die grootste gedeelte van die dag agter haar esel terwyl Mrs Kahn vir haar en Mr Kahn lekkernye aandra.

Dit is reeds na ses en kort voor aandete toe Justin uiteindelik bel. Die nuus is nie goed nie.  Johan het nog geen verlofdae gehad sedert hul egskeiding nie en volgens ‘n dametjie by sy werk was hy ook nog nie een dag afwesig nie. Justin het op ‘n manier toegang tot sy bankrekening gekry en daar was geen groot of suspisieuse ontrekkings nie. Selfs sy selfoonrekords het niks snaaks opgelewer nie. Die enigste gereelde oproepe is steeds die na sy ma elke tweede aand. Dit is dus beslis nie Johan wat haar so teister nie en daar is geen beduidenis dat hy iemand betaal het om dit te doen nie.

“Ek weet nie of dit goeie of slegte nuus is nie Justin…”

“Sover dit my aangaan is dit slegte nuus, want nou is ons niks nader aan ‘n oplossing nie en is jy steeds in gevaar.  Maureen is jy absoluut seker dat daar niemand anders is wat nie van jou hou nie?”

Maureen delf in haar geheue rond. Haar ouers is oorlede, sy en haar broer het nog nooit oor die weg gekom nie, sy het hom nog voor haar huwelik met Johan laas gesien.  By haar vorige werk het sy met almal oor die weg gekom, dit was ‘n klein besigheidjie en daar was geen kompetisie tussen die werknemers nie.  Die enigste ander persoon wat nog nooit juis van haar gehou het nie is haar gewese skoonma, maar ‘n vrou van amper sewentig sal tog nie sulke nare dinge aanvang nie.

“Net omdat daar geen ander leidrade is nie gaan ek maar in elk geval bietjie in haar sake rondkrap.  Is jy seker alles is nog in orde daar by julle?”

Maureen verseker Justin dat alles rustig is en vertel kortliks wat hulle die dag gedoen het.

Nou skoon gewas en aangetrek het Moses versigtig die kombuis ingesluip om aandete saam met hulle te nuttig.

“Dink jy werklik die huis word dopgehou Moses?”

“Ek dink so Maureen. Ek was eers nie seker nie, maar daar was vroeër vandag so geel karretjie wat duidelik stadiger gery het net toe dit regoor die huis was…”

“Maar die motor waaruit daar geskiet is was ‘n wit Corolla…”

“Dit mag so wees Maureen maar wie ookal hulle nou so sleg gedra sal weet dat ons en die polisie nou op die uitkyk is vir ‘n wit Corolla en sal beslis nie weer hier verby met dieselfde motor nie.  Dieselfde geel motortjie is ook netnou hier verby, ek wou nie te opsigtelik wees nie, maar het gestaan en luister en ek is seker die motortjie het net so paar huise verder stilgehou…”

Mr Kahn probeer hard om die spanning te verlig en vermaak hulle weereens met staaltjies aan tafel.  Toe Maureen hulle meedeel dat sy die volgende dag haar skilderye na die gallery moet neem onderneem Mr Kahn om haar met sy motor te neem terwyl Moses by Mrs Kahn agterbly.

Die volgende oggend is Maureen vroeg op en aangetrek. Na ontbyt vertrek sy en Mr Kahn, met haar skilderye veilig agter in sy motor, stad toe.  Haar besigheid word gou afgehandel, maar die druk stadsverkeer hou hulle so op dat hulle eers na elf terug is by die huis.  Moses vertel dat die geel motortjie weer stadig verby die huis is. Mrs Kahn vertel ook dat Justin gebel en gevra het dat Maureen hom dringend moet skakel, hy is glo oppad terug.

Maureen haas haar na haar kamer en skakel Justin se nommer. Daar is egter geen antwoord nie, haar skerm wys “user not available”. Maureen voel hoe haar hart bons. Teen die tyd dat Mrs Kahn haar vir tee kom roep is daar nog geen tyding van Justin nie.

Dit is Mr en Mrs Kahn se brug aand.  Justin het Mrs Kahn vroeer probeer oorreed om nie te gaan nie, maar Mr Kahn wil niks hoor nie.

“So skelm gaan nie my lewe ontwrig nie.  Ek en Mrs Kahn speel al vir vyftien jaar elke week saam met ons vriende brug.” Mr Kahn slaan met sy vuis op die tafel om sy omgekraptheid te beklemtoon.

Toe die Kahns weg is bring Moses ‘n pak kaarte te voorskyn. Maureen het nog nooit sedert haar kinderdae kaart gespeel nie en Moses onderneem om haar die fynere kunsies van Blackjack te leer en beloof om haar eendag na ‘n casino te vat as sy regkom.

Maureen byt op haar onderlip en staar na haar kaarte, sy kan nie besluit of sy ‘n kans moet waag om nog een aan te vra of net te volstaan met wat sy het nie. ‘n Skielike knal en glas wat breek laat haar versteen. Nog voor sy kan reageer trek Moses haar van haar stoel af en duik haar halfpad onder die tafel in. Voor sy haar wind kan terug kry rol hy van haar af en trek sy pistool uit.  Hulle bly so op die vloer lê, dit is nou stil, maar toe Maureen wil beweeg beduie Moses dat sy moet stil lê. ‘n Deur word êrens in die huis oop gemaak en voetstappe kom die gang af. Toe die voetstappe in die kombuisdeur tot stilstand kom probeer Maureen verby Moses kyk, maar hy druk haar met sy linkerarm terug. Maureen besef dat die indringer hulle binne sekondes gaan raaksien en knyp haar oë toe.  Nog ‘n skoot gaan af, so naby dat Maureen se ore fluit.  Sy maak haar oë op skrefies oop.  Moses is onder die tafel uit en hol agter die indringer die gang af. Maureen is so gefokus om te probeer sien of hoor wat in die gang aangaan dat sy byna nie die kombuisdeur hoor oopgaan nie. Dit is egter te laat, die vrou met die wilde grys hare bestorm haar, kry haar aan die hare beet en sleep haar onder die tafel uit.

“Jou feeks… ek het vir hom gesê jy gaan hom net ongeluk bring…”

Maureen probeer haar uit die ouer vrou se greep wikkel, maar koue staal teen haar keel dwing haar tot stilstand. Die vrou lag ‘n harde kekkellag.

“O jy dink ek is ‘n ou vrou, jy kan vir my ore aansit? Ons sal sien of jy nog soveel selfvertroue het as ek met jou gesiggie klaar is…jy het my seun verniel, hom nie waardeer nie, jy sal betaal daarvoor…”

Maureen probeer haar teësit toe die ou vrou haar gangaf probeer dwing, maar die ou vrou se malligheid maak haar amper bonatuurlik sterk. Skielik verslap haar greep en Maureen ruk haarself los en swaai om, net betyds om te sien hoe Johan se ma op die vloer inmekaar sak.  Justin staan met ‘n pan in sy hand. Voor Maureen tot verhaal kan kom kom Moses met ‘n jong man die kombuis binne, dit is duidelik dat Moses hom reeds laat betaal het vir sy aandeel in die aanval.

Dit is reeds amper middernag toe die polisie met Johan se ma en die jong man wat sy gehuur het daar weg is.  Mrs Kahn het vir almal koffie gemaak en hulle sitkamer toe gestuur omdat die kombuis steeds in ‘n toestand is. Terwyl die ouer Kahns vir Justin en Moses uitvra oor die aand se gebeure probeer Maureen self sin maak van alles. Dit neem ‘n ruk voor sy agterkom dat Justin sy arm liggies om haar skouer het. Die troos wat dit bied oorweldig haar byna, maar toe sy onderlangs na hom loer sien sy hoe hy haar dophou. Daar is ‘n sagtheid in sy oë wat beloof van ‘n beter, gelukkiger toekoms.

Kopiereg Lynne 2019

Comments are closed.