Die Rebellie van Hermien von Stavel

Hermien het in ‘n konserwatiewe Afrikaanse ouerhuis grootgeword. Wat ‘n plesier was sy as kind nie. Hermien was byna elke ouer se droom en so voorbeeldig dat sy byna ook as elke ouer se bekommernis geklassifiseer kon word.  Ja werklik, Hermien se ouers was effe bekommerd oor hul dogter se voorbeeldigheid.  Hulle het verniet gewag vir haar ‘terrible two’s, verniet gewag vir haar tiener rebellie.  Hoewel hul vermoed het dat Hermien om een of ander rede konflik vrees, wou hulle tog ook sien dat Hermien genoeg ruggraat gehad het om vir haarself te kon baklei.

Hermien het egter, oënskynlik onbewus, haar voorbeeldige gang gegaan. Op laerskool het sy al die akademiese pryse gewen, geswem en netbal gespeel.  Sy was nie juis ‘n goeie atleet nie, maar sy het gedienstig ook haar kant op die sportveld gebring.  Op hoërskool het sy haar akademiese prestasies voortgesit, maar sport verruil vir die debatklub en koorsang.

Hermien was ook ‘n mooi meisie en hoewel die seuns nogal graag met haar wou kys, het sy verkies om net maats te bly.

Sy het uiteindelik hoofmeisie geword en is na skool universiteit toe om onderwys te gaan studeer.

Toe Hermien in haar laaste jaar een aand haar ouers bel en vertel van die jong man, Andre von Stavel, wat sy op ‘n kampusuitruil ontmoet het, was haar ouers heimlik verheug oor haar rebellie, want sien, hulle was nie mense wat verhoudings tussen mense van ‘n ander ‘soort’ goedgekeur het nie en so ‘n uitheemse van kon net beteken dat die jonge man van ‘n ander nasie kon wees, moontlik ‘n Nederlander, Duitser of Brit.  Hermien se pa het ‘n hele nag wakker gelê en sy argument teen die jong man voorberei.  Hul opgewondenheid het egter nie lank geduur nie, want gou het hulle ontdek dat Andre von Stavel ‘n Afrikaanssprekende jong boer uit Barrydale se wêreld is.

‘n Jaar na hul ontmoeting het Hermien en Andre verloof geraak. ‘n Jaar na hul verlowing is hulle getroud en ‘n sindelike twee jaar na hul huwelik is hul eersteling gebore.

Hermien het ‘n voorslag-ma en boervou uitgedraai. Wat die skool koekverkopings en die kerkbasaar betref, was Hermien eerste daar met haar gebak en altyd bereid om te help.  Haar vet hoenders en eiers was in aanvraag by die dorp se slaghuis en te midde van dit alles kon mens haar altyd deur ‘n ring trek.

Hoewel dit moeilik was om te glo en nooit bewys kon word nie, was daar so een of twee maal skinderstories in die omloop dat Andre so af en toe in die rigting van die stouter meisies in die dorp geloer het. Die stories kon egter nooit deur enigiemand bevestig word nie en het so gou as wat dit begin het, doodgeloop.

Hermien was altyd vriendelik, maar na jare wat hulle buite die dorp gewoon het, het niemand haar ooit regtig leer ken nie, in elk geval nooit regtig goed genoeg vir haar om haar geheime en drome mee te deel nie.

Tog het sy drome gehad. Hermien wou graag reis, sy wou na musiekuitvoerings in groot konsertsale gaan kyk, ander kulture se kos proe en ander lande se geskiedkundige argitektuur besigtig. Hoewel Andre onder die gemeenskap as ietwat van ‘n bakkieboer beskou is, het hy sy werkers goed betaal en goed behandel en het hy dus ‘n vriendelike en lojale span gehad. Teen die tyd dat sy pa oorlede is en hy ook die buurplaas geërf het, was Andre en Hermien in eie reg welaf. Andre het toe boonop gedeeltes van sy pa se plaas aan naweekboere vir weiding verhuur en met die geld vir hulle ‘n vakansiehuis op Plettenbergbaai laat bou.

So het dit dan gebeur dat die Von Stavels vakansie na vakansie afgesit het Plettenbergbaai toe.  Een maal, toe klein Andre omtrent 10 jaar oud was, het Hermien voorgestel hulle verhuur die vakansiehuis vir die Desember skoolvakansie. Dan kon hulle êrens anders gaan, miskien Europa toe vir ‘n week of wat.  Sy het selfs voorgestel dat klein Andre en sy jonger sussie by haar ouers gaan bly en dat hulle dan alleen reis, ‘n tweede wittebrood of so iets.  Andre het egter net in sy baard gesnork en gevra waarom sal hy dit dan wil doen as hy gerieflik in sy eie huis kan gaan bly en vir ‘n week lank kan visvang. Hermien het nie gestry nie, net met ‘n ‘dis reg so Andre’ omgedraai en weggeloop.

Sou enige iemand vir Hermien dalk beter geken het, sou hulle die moeilikheid ‘n myl ver sien kom het, maar sy was net Hermien, die bobaas bakster, die voorslag, die getroue slaaf en niemand sou ooit kon raai hoe opstandig haar binneste was nie.

Klein Andre is uiteindelik landboukollege toe en twee jaar later is Sus ook weg universiteit toe.  Die verandering in Hermien was so subtiel dat niemand dit aan die begin agtergekom het nie.  Eers het sy haar hare korter laat sny en ligstrepe laat insit. Daarna het haar kleredrag so stuk-stuk verander en het dit die mense ‘n rukkie geneem om agter te kom dat Hermien nie meer na haarself lyk nie. Die geruite hemde en bloese het plek begin maak vir sagter bostukke in pastelkleure en die werksbroeke en regaf rompe vir sagte rompe met valle en byderwetse denimbroeke. Dit was egter eers toe die Posmeester eendag opmerk dat Hermien tien jaar jonger lyk dat ander notisie begin neem het.

Sy het vir haar ‘n klein byderwetse karretjie gekoop en het slegs met die bakkie dorp toe gekom wanneer sy geslagte hoenders by die slaghuis kom aflewer het.

Boonop het Hermien begin nee sê vir al die bakkery. Haar verduideliking was dat sy nie meer kinders in die skool het nie en dat dit nou die jonger mammas se beurt was.

Omtrent ‘n jaar nadat Sus weg is, bel die slagter, soos dit sy gewoonte was, op ‘n Maandagmôre plaas toe om sy bestelling te plaas en was hy nogal verbaas toe Andre die telefoon antwoord. Andre het bra kortaf belowe om die bestelling die Woensdag te kom aflewer.  In ‘n bietjie meer as twintig jaar was dit die eerste keer dat Andre die bestelling kom aflewer het. Natuurlik was die slagter nuuskierig en het hy hardop gewonder of Hermien dalk siek is. Andre het iets gemompel van ‘n vakansie en die hasepad gekies.

Die volgende week was Hermien steeds nie terug nie en het Andre weer die slaghuis se bestelling kom aflewer.  Die keer was hy effe vriendeliker en het die slagter meegedeel dat Hermien so ‘n bietjie weg is met vakansie en dat hy haar eers oor ‘n week of twee terug verwag.

Uiteindelik het Hermien weer haar opwagting in die dorp gemaak, maar nou was dit opmerklik dat Hermien ‘n metamorfose van ‘epidermiese proporsies’ (soos Oom Oubaas van Sewende Laan sou sê) ondergaan het.

Haar hare was los en blink en vir die eerste maal het die dorpenaars haar met ‘n sweempie grimering aan gesien. Sy het hoë hakke gedra en met ‘n geheimsinnige glimlag van plek tot plek gesweef. Toe die kerk haar nader om vir die basaar te bak het sy gesê dat sy ongelukkig te besig is en met ‘n geheimsinnige glimlag weggestap.

Asof dit nou nie genoeg was om almal hul koppe te laat skud nie, daag Hermien eendag met ‘n groupie boheemse gaste by een van die dorp se restaurante op. Dit lag en gesels en die wyntjies vloei en dit nogal alles in Brits. Om sake te vererger, neem Hermien ook nie weer die aflewering van die hoenders oor nie. Nee, Andre bly aflewer terwyl Hermien kuier en inkopies doen.

Nou gons dit in die dorp en die bespiegelinge draai om huweliksprobleme en owerspel, maar tog daag Andre en Hermien steeds elke Sondag by die kerk op en begin dit lyk asof Andre ook besig is om ‘n verandering te ondergaan. Binne ‘n maand na Hermien se terugkeer het Andre etlike van sy ekstra kilogramme om die middel verloor en wit hemp en swart diakendassie met kleurvolle hemde en dasse vervang.

Net toe almal dit nie meer kon hou van nuuskierigheid nie lek die storie uit. Maria, wat in die plaashuis help, kuier een naweek by haar mense in die dorp en na so ‘n paar slukke uit die papsak begin sy oor haar huismense praat.

Dit was glo ‘n aardigheid toe die bom in daardie huis gebars het. Andre het een oggend glo na Hermien geroep om vir hom tee te bring waar hy teen tienuur nog op die agterstoep gesit en koerant lees het, maar in plaas van sy koppie tee kry hy toe ‘n kopwas soos min.  Hermien het glo geskree dat die berge antwoord gee. Sy het gesê Andre is lui, oorgewig en vervelig en dat sy haar nie langer deur hom gaan laat terughou nie.  Sy gaan doen wat sy nog altyd wou, en hy kon kies, of hy kom saam en groei saam met haar, of bly daar op sy eie mishoop sit. Sy het ook gesê dat sy moeg was om sy slaaf te wees en dat hy in die vervolg sy eie tee kan gaan maak en as dit hom sou behaag, kan hy vir ‘n slag vir haar ook ‘n koppie skink.  Daarna het sy ‘n reisagent gebel en haar tasse begin pak.

Andre het glo aanvanklik swaar gekry sonder Hermien en het soos ‘n brombeer met migraine rondgeloop, maar hy moes seker lank en hard gedink het, want op ‘n dag het hy in sy bakkie geklim en George toe gery.  Hy het teruggekom met pakkies en ‘n skottelgoedwasser. Stadig maar seker het dinge verander in en om die huis. Andre het vir homself begin kosmaak, die skottelgoedwasser gepak en uitgepak en al die aflewerings self gaan doen.

Uiteindelik was Hermien terug, blosend en stralend, met ‘n nuwe haarstyl, nuwe uitrustings en vol geselsies oor haar reis.  Andre het aan haar lippe gehang en laataand kon Maria hulle vanaf haar huisie nog op die stoep sien sit, elk met ‘n glasie wyn. In plaas van op die plaas werk, het Hermien begin skilder en naaldwerk gedoen. Sy het glo ook kortverhale begin skryf.  Hermien het in die huis geloop en neurie en nie lank nie of dit lyk of Andre by haar aangesteek het. Terwyl hy saam met sy werkers die graaf opneem het hy hardop gesing. Boonop sê hy hulle moet liewer volgende jaar vroeg oes, want hy wil saam met sy vrou oor die water gaan kuier. Soos sy nou lyk, kan hy mos nie waag om haar alleen te laat gaan nie.

Comments are closed.