DAAR IS PAMPOEN IN DIE KONFYT – Lynne Lexow
Dit is met goeie rede dat die mense vir Ouma ‘Hessie van Helsdingen’ noem. Ja, Ouma Hessie is ‘n karakter en ‘n opperste platjie. Eers was Melinda maar bra dikbek omdat sy haar kamer aan Ouma moes afstaan en weer saam met haar jonger suster ‘n kamer moes deel, maar met tyd het sy besef dat haar lewe maar bra saai sou wees sonder Ouma Hessie.
So jaar nadat Ouma by hulle ingetrek het was die hele buurt in rep en roer en het selfs die ambulans en die brandweer by hul huis opgedaag nadat Ouma Hessie in die moerbeiboom geklim het, op ‘n dunnerige tak geptrap het, en toe nie weer met haar kort bene daar kon afkom nadat die tak gebreek het nie. Dan moet mens nie eers praat van die sonde met die bure nie. Ouma Hessie noem hulle ‘n ‘onopgevoede gebroedsel’ en as buurman nie kom kla omdat Ouma Hessie sy hond met die kettie geklits het nie, dan kom huil buurvrou omdat Ouma een van haar kindertjies geskel het. Klein Abrahan moes dit al ‘n paar keer ontgeld. Daar was groot drama toe Klein Abraham van Buurman deur Ouma se dahlias geploeg het om sy rugbybal te kry nadat dit oor die muur gevlieg het. Ouma het hom aan een van sy bakore bygekry en hom huis toe marsjeer. Sy een oor is nou nog groter as die ander. Buurman het gedreig om ‘n saak teen Ouma te maak, maar nadat sy vir hom ‘n paar stukke uit die Bybel aangehaal het, het hy rooi in die gesig die aftog geblaas.
Hoewel Melinda haar ouma se manewales geniet het was dit nie altyd die geval met haar ouers nie. Ma moes soms sommer twee kalmeerpille drink voor ‘n inkopietog. Ja sien, Ouma kom van die plaas af, waar sy en Oupa self geslag het, groente uit hul eie tuin gehaal het, en waar die boorde vol vrugte was. Melk was romerig en Ouma het haar eie botter en kaas gemaak. Toe Oupa nog geleef het, het Melinda elke tweede skoolvakansie op die plaas deurgebring en as dit nie was dat sy elke dag saam met Oupa kilometers op die plaas gestap het, perd gery en geswem het nie, sou sy seker huis toe gerol het. In die oggende was dit mieliepap met botter, bruin suiker en volroom melk, teen tienuur het sy soetkoekies saam met haar koffie ingeryg. Saam met Oupa het sy geloop en geelperskes eet tot haar hare taai was van die sappige lekkerte en nog voor sy kon herstel van haar vol maag het Ouma geroep vir middagete. Ja, die dae was vol van boerebeskuit, wors en biltong wat Oupa self gemaak het en hierdie lekkernye was net so deel van haar kindertyd as skool en maats.
Ouma Hessie was streng en vir Melinda het sy sommer met die pantoffel bygekom wanneer nodig. Terugpratery kon Ouma nie duld nie, nie van die plaaswerkers of Melinda nie. Ouma was egter nie iemand wat lank kon kwaad bly nie en as die straf klaar uitgedeel was, was sy weer haarself.
Toe Oupa in Melinda se standerd agt jaar skielik oorlede is, was dit ‘n einde van ‘n era. Melinda se pa was‘n argitek in ‘n groot dorp en haar ma, hoewel ‘n goeie ma en huisvrou, was nie ‘n boervrou nie. Die plaas is uiteindelik verkoop en die geld vir Ouma belê. Ouma wou eers nie by hulle kom woon nie, maar Pa het belowe om vir haar ‘n woonstel in die erf te bou en uiteindelik het sy toegegee. Kort na haar aankoms het Melinda se pa ‘n groot kontrak aangeneem vir ‘n sportkompleks en waterpark in die stad en is haar ma ‘n pos as onderhoof by ‘n skool in die buurdorp geoffer. Ouma het stil-stil die huishouding oorgeneem en van ‘n woonstelletjie is daar nie weer gepraat nie.
Maar ons dwaal af… terug na kosdinge… Soos genoem, was Ouma gewoond om alle kos vars en self te maak. In die dorp was vars produkte nie altyd beskikbaar nie, of baie duur. Ouma sou dit natuurlik met graagte nog wou doen maar Melinda-hulle se huis was ‘n moderne huis sonder ‘n spens en plek vir bottels ingelegde vrugte, vlesse vol konfyt en blikke met beskuit en koekies was daar nie.
Ouma het daagliks gemor oor haar ‘blou’ tee en het ruimskoots bespiegel oor die hoeveelheid water wat die mense by hul melk voeg voor hulle dit aan die supermark lewer. Op ‘n dag het Ouma met ‘n suur trek om haar gesig die snytjie witbrood opgetel en dramaties gewonder wat sy met diè moes doen – eet of lees? Margarien was vir Ouma ‘n euwel en Ma moes maar uiteindelik vir Ouma regte botter by Woolies gaan koop. Winkelkoekies het soos plastiek geproe en ma moes maar vir Ouma help soek na haar bakplate en koekiedrukkers.
Saterdagoggende was tradisioneel inkopietyd in hul gesin en vroegoggend het die gesmeek en gepreek al begin.
“Ma moet nou asseblief nie weer vir Maryna in die skande steek vandag nie. Praat tog asseblief net bietjie sagter… Asseblief Ma, die jongklomp trek maar vandag so aan en dit is ander mense se kinders Ma…Ma moet tog nie weer vandag so loop en druk aan die vrugte nie… Ma, Maryna bestuur al jare Ma, sy ken die verskil tussen ‘n stopteken en ‘n toegeeteken Ma…” het haar pa gepleit.
Melinda se ma het elke keer kalm voorgekom, maar die dun lyntjies om haar mond het haar verraai. “Is Ma gereed? Het Ma Ma se beursie? Het Ma snesies ingesit? Het Ma gemaklike skoene aan? Het Ma ‘n truitjie in, die lugreeling in die winkelsentrum kan nogal koel wees…”
Ouma het elke keer net geknik en ge’umf’ en uiteindelik is almal wat wou winkels toe in die motor. So was dit ook daardie Saterdag, maar ten spyte van Melinda se pa se pleidooie het Ouma, nog voor hulle behoorlik buite die hek was, al begin mor.
“Koop tog hierdie keer vir ons broodmeel Maryna, ek kan sowaar nie langer daardie vellietjies goed, wat julle brood noem, eet nie… oe en daardie blikkies konfyt…so saam met daardie deurskynende velletjies brood gee dit my die aardigste sooibrand….”
Melinda se ma knik en “ja Ma” maar net terwyl sy stip voor haar uitstaar.
Dit is amper die einde van die maand en die winkelsentrum is voller en besiger as gewoonlik. In die supermark gons en girts dit soos die trollies se wiele suis. Ouma laat haar egter nie afskrik nie en bekyk en lees elke blikkie, botteltjie en pakkie terwyl sy die trollie sommer netso los. Melinda probeer die vrede bewaar en stoot kort-kort die trollie uit die pad uit voor ‘n ander huisvrou dalk ongeskik kan raak.
Uiteindelik staan hulle voor die rak met die konfyte en broodsmere.
“Ek sal moet iets kry om op die kinders se toebroodjies te sit…”praat Melinda se ma met haarself, terwyl sy ‘n blikkie appelkooskonfyt van die rak afhaal.
“Nee Maryna, tog nie weer daardie goed wat soos pampoen proe nie…” roep Ouma onhuts uit en haal die blikkie uit die trollie en sit dit summier terug op die rak.
“Maaha…” probeer Melinda se ma nog keer.
“Nee heng my kind, dis die slegste goed wat ek nog geproe het… ene pampoen…appelkooskonfyt noem hulle dit, seker twee pampoene en een appelkoos, as jy my vra…”
Melinda se ma wil nog haar hand uitsteek om die blikkie weer van die rak af te haal toe ‘n skielike gelag agter hulle uitbreek.
‘n Middeljarige bruin man vee die trane van sy wange af soos hy lag.
“Dis nou die waarheid Mevrou. Ek kan daardie goed ook nie in my liggaam inkry nie…” lag hy verder.
“Ek sou konfyt wou kook, maar die dekselse appelkose in hierdie winkel proe ook na niks. Lê seker ses maande in ‘n koelkamer voor dit winkel toe kom.”
“Is so Mevrou, maar ek het die mooiste appelkoosbome met die lekkerste vrugte in my jaart en elke jaar maak my vrou vir ons bottels vol appelkooskonfyt. Sommer genoeg om ons te hou tot die volgende seisoen. Die jaar dra die bome asof daar tien maer jare voorlê en hoe my vrou al daardie vrugte opgekook gaan kry weet ek nie, ek glo nie ons het eers genoeg bottels nie. Hoe lyk dit Mevrou, kan ek Mevrou dalk so bietjie uit die verknorsing help?”
Ouma het nog agt jaar gelewe na daardie dag in die supermark en vir agt jaar het Oom Koek, soos sy vrou hom genoem het, elke jaar vir Ouma ‘n paar sakke appelkose gebring waarvan Ouma die heerlikste appelkooskonfyt en blatjang gemaak het.
Toe Ouma oorlede is, was Oom Koek en sy vrou ook op die begrafnis. Toe hulle na die diens kom groet sit hy sy arm om Melinda se skouers en druk ‘n botteltjie appelkooskonfyt in haar hande.
“Ek is so jammer my kind, maar so lank as wat ek en die tannie nog kan, belowe ek om elke jaar vir julle ‘n paar bottels appelkooskonfyt te bring, jou ouma sou dit so wou hê.”
