Kerk Manewales

Mense gaan kerk toe vir verskillende redes, sommige waarvan nie altyd veel met geloof te doen het
nie. Sommiges verlang na die sosiale interaksie, ander na die gewydheid en vrede van ‘n kerkgebou
en ander is daar in die hoop dat hulle vetroosting en/of ‘n boodskap sal kry. Vir kinders is dit egter
meestal ‘n plig wat deur hulle ouers voorgeskryf word.

Na ‘n lang week van vroeg opstaan en skoolgaan is daardie Sondagoggend roetine van vroeg
opstaan, hare was en skoene en kouse aantrek soms ‘n swaarmoedige gedoente. Om dan stil te gaan
sit vir ‘n uur of langer met die wete dat daar nog ‘n uur van Sondagskool voorlê is soms vir ‘n
kinderbrein net te veel. Wanneer die dominie dan nog elke woord, elke sin uitrek en die tannies elke
noot van elke gesang vir ‘n leeftyd lank teem, dop die kinderbrein om van verveeldheid en word daar
soms gekompenseer deur intense aandag aan die onwaarskynlikste dinge te gee.

Karel de Beer was twaalf jaar en vier-en-dertig dae oud op daardie spesifieke Sondag. Dit was een
van die Karoo se warm dae met die kwik wat hier by een-en-veertig grade gaan vassteek het. Soos
elke Sondag tevore het sy ma die vorige aand al sy grys langbroek, wit hemp met stywe boordjie,
grys kouse en rooi das op die ander bed neergesit. Karel het al gesmeek dat sy ma hom sal toelaat
om soos Japie van Breda in ‘n kortbroek kerk toe te gaan, maar sy ma wou niks weet nie en toe hy by
sy pa gaan pleit, het die net iets gemompel van ‘n treinspoor.

Die kerk is ‘n statige ou sandsteengebou en het net groot dakwaaiers en nie lugreeling soos daardie
moderne kerkgebou waar hy tydens een van hulle skoolkampe was nie. Teen die tyd dat die
ouderlinge en diakens hulle plekke ingeneem het sweet almal, insluitende Karel, al reeds.

Karel se pa is diaken en sit dus in elk geval nie by hom, sy ma en sussie nie en dus het sy ma al so
twee jaar gelede besluit om vir haar en die kinders ‘n plek op die gallery te ‘bespreek’. Sondag na
Sondag het hy, sy ma en sussie op dieselfde plek gaan sit. Vir Karel was dit ‘n aansienlike verbetering,
want nie alleen was hulle nader aan die dakwaaiers nie, maar hy kon alles van daarbo af sien.

Karel se intense belangstelling in die mense in die kerk het al groot konsternasie veroorsaak, want
op twaalf, en ‘n redelike naiwe twaalf daarby, het hy nog nie besef waaroor mens mag en nie mag
praat nie. So was hy onder andere verantwoordelik dat die verhouding tussen die burgermeester se
dogter en Dronk Danie van die Onderdorp se seun, op die lappe gekom het nadat hy gesien het hoe
hulle agter die ‘beskerming’ van haar groot handsak handjies vashou.

Op sy twaalf jaar en vier-en-dertig dae verjaarsdag het hy egter die grootste konsternasie ooit
veroorsaak.

Vyftien minute en dertig sekondes in Dominie De Jager (ja, Karel het ‘n elektroniese horlosie van sy
oupa gekry op sy twaalfde verjaarsdag en sodoende ‘n obsessie met tyd ontwikkel) se preek in, kon
Karel voel dat sy ooglede swaar begin raak. Wetende dat sy ma hom binnekort hard in die ribbes
gaan pomp met haar elmboog, het Karel sy oë gerek en regoper gesit, en dis toe dat hy die
spinnekop aan sy draadjie van die dak af sien hang, reg bokant Ant Joey se geel hoed.

Die spinnekop was seker ook verveeld en het homself besig gehou met allerlei mannewales. Een
oomblik skiet hy teen sy draadjie op en die volgende oomblik skiet hy weer af, en elke keer net so
klein bietjie nader aan ‘Ant Joey se geel geblomde hoed. Karel het geweet dat ‘Ant Joey een van
daardie vol-fiemies tannies was wat nie eers tee by iemand sou drink as hulle ‘n verdwaalde mier in
die huis gehad het nie. ‘Ant Joey was ook ‘n luide mens en as sy iets gehad het om oor te kla in die
dorp se kafee het die mense in die hospitaal aan die ander kant van die dorp daarvan gehoor.

Karel kon hom net voorstel wat sou gebeur as die arme spinnekop dit sou regkry om op Ant Joey se
hoed te land en dan van daar af voor haar gesig sy manewales sou voortsit. Karel het net geweet dat
hy iets moes doen voor ‘n katastrofe net daar in die gewyde atmosfeer van die kerk plaasvind. Hy
het egter ook geweet dat sy ma hom sou vermorsel as hy dit sou waag om kriewelrig te raak.
Gelukkig was dit byna tyd vir die eerste lang gebed.

Karel het eers seker gemaak dat sy ma se oë behoorlik toe was voor hy versigtig sy sakdoek uit sy sak
gehaal het. Karel se arm was net-net te kort om die spinnekop beet te kry en versigtig sit hy sy
linkervoet voor sy regtervoet en gee ‘n treetjie vorentoe tot teen die houtbank voor hom. Met sy
tweede poging skiet die spinnekop weer ‘n entjie op en Karel vat hom weer mis. Met een oog op sy
ma en die ander op die spinnekop verplaas Karel weer sy balans en rek homself effe langer uit deur
op sy tone te staan. Die spinnekop sak weer af en die keer is hy ‘n breukdeel van ‘n millimeter van
Ant Joey se hoed af. Karel sien sy kans en met die sakdoek oor sy hand gryp hy na die spinnekop. Sy
sakdoek gly egter van sy hand af en beland op Ant Joey se hoed. Paniekbevange gryp Karel na sy
sakdoek maar in die proses vat hy nie net sy sakdoek vas nie, maar ook een van die geel blomme op
die hoed en in ‘n breukdeel van ‘n sekonde staan hy met sy sakdoek, die spinnekop en Ant Joey se
hoed in sy hand. Dit neem hom ook nie langer as daardie breukdeel van ‘n sekond om te besef dat sy
agterstewe gaan brand wanneer hy by die huis kom nie en instinktief gooi hy die hoed, spinnekop en
sakdoek dat dit trek… reg van die gallery af.

Met oë so groot soos pierings sien Karel hoe die hoed, sakdoek en spinnekop soos drie wafferse
sweeftuie deur die lug sweef, tot die hoed skuins oor ou Oom Dirk se kop en gesig land, die sakdoek
mooi oop gesprei in sy vrou, Tant Anna, se skoot land en die spinnekop tussen hulle bene verdwyn.
Oom Dirk gee ‘n gil en klap die gedoente van sy kop af, Tant Anna gil en gryp na die geel hoed toe
Oom Dirk se klap dit weer laat opstyg. Dan skielik vergeet sy van die hoed en spring op die kerkbank
en begin so hewig haar rok uitskud dat almal in die kerk die Woolworths etiket op haar onderklere
kan lees. Mnr Spinnekop, verskrik deur sy onbeplande vlug, klou egter vir al wat hy werd is en
probeer hoër en dieper in die oumensvoue inklim. Dominie vergeet om ‘amen’ te sê en Oom Dirk en
Tant Anna se seun Klein Dirk storm uit die diakenbanke uit na sy ouers toe.

Intussen het Ant Joey ontwaak en haar hoed in die warboel van siele sien verdwyn en het sy van bo
af begin gil, “my hoed, my hoed… pasop vir my hoed…”

DIt was seker nie die eerste onderbreking wat ooit plaasgevind het in die NG Kerk Alberton nie, maar
dit was die eerste keer dat die chaos van so aard was dat Dominie maar besluit het om, na orde
herstel is, die preek maar kort te knip sodat almal ‘n soet teetjie vir die skok kan gaan drink.

En Karel? Sy Oupa het sy ouers na die diens ingelig dat Karel daardie middag so bietjie by hom en sy
ouma gaan kuier en dat hulle hom later huis toe sal bring. Karel se pa wou nog teëpraat toe waai
Oupa al sy vinger. Na middagete het Oupa vir Karel eenkant gevat en hom mooi vertel dat hoewel hy
seker straf verdien, hy sy sondes vandag gaan oorsien, want nog nooit was hy so dankbaar om uit ‘n
warm kerk te kom soos daardie dag nie en na die lekker lag pla die droogte hom nie eers meer so
baie nie.

© Lynne Lexow

Comments are closed.