Kleine Sussie Rafels

Kleine Sussie Rafels, die vuilkind van Jan Sak… Ja, dit was haar naam. Een van agt kinders, hier by die middel rond. Niemand was eers seker of sy nommer vyf or ses was nie en soms het sy gewonder of haar ouers ooit seker was. Jan Sak, haar pa, het sy naam gekry oor die papsak wat hy getrou elke Vrydagmiddag daar by die hoekwinkel gaan koop het. Teen vroegaand was daardie sak leeg en het Jan sommer so skeef-skeef die straat af geloop en skel. Partykeer was hy net te lawaaierig of het hy die verkeerde straat afgeloop en het iemand die polisie gebel en getrou het hulle hom maar elke
keer net weer by die huis kom aflaai.

Jan se vrou, Sussie Rafels se ma, ou Sannie Moeggepraat, was ‘n mooi vrou op haar dae, maar na vele kinders and ‘n paar taai klappe van haar man, het daar nie veel van haar skoonheid oorgebly nie. Sannie wou al dat dokter die ‘shop’ toemaak na die derde baba, maar Jan het geweier en gesê dis ‘n sonde. Dokter het mooi gepraat en aan Jan verduidelik dat kindertjies ‘n duur storie kan raak, maar Jan wou niks hoor nie en het selfs gedreig om vir homself ‘n tweede vrugbare vrou te kry as Sannie daardie ding laat doen. Natuurlik was Jan se dreigement belaglik, want teen daardie tyd was Jan self nie meer ‘n ‘oil painting’ nie en het die drankwalm te gereeld om hom gehang.

Maar nou ja, hierdie storie gaan nie oor Jan en Sannie nie, maar oor Sussie Rafels, oftewel oor Magdalena, soos sy gedoop is. Magdalena was ‘n mooie kind. Vir een of ander rede het sy meer van haar ma se gene geërf as van haar pa s’n en het sy nie Jan se kraalogies en breë neus gehad nie, maar haar ma se mooi blou oë, pikante neusie en dik, rooibruin hare. Terwyl haar boeties en sussies maar met die lees en skryf gesukkel het, het Magdalena goed gevaar op skool. Ten spyte van die koolstoof reuk wat om haar gehang het, kon onderwysers en onderwyseresse nie van die kind af weg bly nie, want so van ‘n klein wonderwerk kon hulle nie verstaan nie. So het Magdalena aandag begin trek, want mense praat mos.

Daar het stories begin rondloop dat Jan en Sannie selfs geld aangebied was deur van die gesiene mense in die dorp om Magdalena aan te neem sodat die kind darem ‘n kans in die lewe kon kry, maar Jan en Sannie het geweier, sy is mos darem hulle bloed. Op ‘n keer het iemand selfs die welsyn op hulle gesit, maar die welsyn het gevind dat die kinders elke dag kos gekry het en in skonerige beddens geslaap het. Te min geld en pa se drinkery elke Vrydag was nie genoeg rede om die kindertjies te verwyder nie.

Omdat Magdalena die soveelste kind was (ja ons is nou nog nie seker of sy nommer vyf of ses was nie) het sy in haar kinderdae nooit ‘n nuwe rok of skoene geken nie en gevolglik is sy Sussie Rafels gedoop deur die dorpsmense.

Soos die egter maar gebeur, word alle kinders groot en teen die tyd dat Magdalena dertien geword het, het die mannetjies na haar begin loer, want haar lyfie was omtrent so pragtig as wat haar gesiggie was. Mense het begin fluister en ander het gebid dat die kind tog net nie swanger moet raak nie en darem haar skoolloopbaan sal voltooi, want miskien kon sy dan darem in een van die winkels gaan werk en nie soos haar oudtste suster op twintig al met ‘n swetterjoel kleingoed van haar eie sit nie. Niemand het egter ooit die moeite gedoen om vir Magdalena te vra wat haar drome was nie of wat sy van die lewe wou hê nie.

Magdalena het die jong manne geignoreer, want sy was slim genoeg om te weet dat een misstap of een oomblik van plesier haar toekoms vir ewig in die wiele kon ry. Magdalena het weekliks by die ouetehuis ‘n bondeltjie ou tydskrifte gaan haal en daarin het sy gelees van die rykes en beroemdes, het sy gesien hoe ander mense leef in huise wat soos paleise lyk. Sy het gelees van ander lande en kulture en besef die wêreld is groter as haar tuisdorp. Magdalena het egter nooit hierdie drome en dinge met enige iemand bespreek nie, maar diep binne haar het sy geweet dat sy sou doen wat sy kon om van haar lewe as Sussie Rafels te ontsnap.

Uiteindelik het die laaste jaar van haar skoolloopbaan aangebreek. Sy was die tweede kind van Jan en Sannie wat matriek gehaal het. Die ouer dogters was al almal getroud en die ouer seuns het saam met haar pa by die slagpale gewerk, behalwe vir die een wat matriek gehaal het, hy was ‘n trokdrywer. Vir Magdalena was dit skrikwekkend, want die tyd het min geraak en sy het nog nie ‘n plan bedink om uit haar omstandighede te ontsnap nie. Maar die noodlot is mos ‘n skelm swernoot. Die jaar het skaars begin of Mev. Theron, haar biologie onderwyseres, roep haar eendag eenkant. Mev Theron het nie veel te sê gehad nie, maar haar slegs gevra om een middag na haar huis toe te kom en omdat Magdalena geweet het haar pa kom nie sommer vroeg huis toe op ‘n Vrydag nie het sy met Mev Theron afgespreek om haar die Vrydag te gaan besoek.

Magdalena kon haar nie indink waaroor Mev Theron haar alleen en so geheimsinnig wou sien nie, maar die Vrydag het sy deur haar jonger boetie ‘n boodskap huis toe gestuur dat sy bietjie laat sou wees. Daarna het sy so rukkie in die dorp getalm voor sy die pad na die onderwyseres se huis aangedurf het.

Mev Theron se huis was pragtig, een van die mooistes in die dorp en Magdalena het nog altyd gewonder hoe dit binne lyk. Toe Mev Theron daardie middag vir haar die deur oopmaak moes Magdalena haar inhou om nie na haar asem te snak nie. Die blink, ligte grys teels van die voorkamer met die ryk, los matte en sagte fluweel stoele het vir haar nes die in die boeke gelyk. Toe Mev Theron haar nooi om te sit was Magdalena amper te bang om op een van die blink rooi stoele te sit en het haar net so effentjies op die randjie van een tuis gemaak, nie dat ‘tuis’ juis die regte woord is om hier te gebruik nie. Magdalena was so benoud dat sy haar hande styf vasgeklem in haar skoot gehou het, te bang dat haar natgesweete hande ‘n merk op die bekleedsel sal los.

“Magdalena, het jy al aan die matriekafskeid begin dink?” het Mev Theron versigtig gevra.

“Nee Mevrou, nog nie.” het Magdalena skaam geantwoord, want eintlik was dit nie waar nie. Magdalena het vroeg in hoërskool al geleer om self haar klere met die hand te was en buite te hang sodat die koolstoof se reuk nie daaraan klou nie en met haar Kersfees geldjie het sy elke jaar vir haar ‘n lekkerruik dingetjie by die Chinees gaan koop. Magdalena het al die vorige jaar by Martha, haar maat van graad een af, gehoor dat beide Willem van der Sandt en Ruan Weideman haar vir die matriekafskeid wil vra. Ruan het al langs haar by die atletiek kom sit en haar gevra of iemand haar al uitgevra het vir die matriekafskeid. Om die waarheid te sê het Magdalena al slapelose nagte gehad oor die einste matriekafskeid. Haar ouer broer, die enigste ander kind wat matriek gehaal het en wat vandag ‘n langafstand trok bestuurder is met ‘n groot salaris, het nie juis ‘n probleem gehad nie. Hy is sommer afskeid toe in haar pa se troupak, wat nog mooi en netjies in ‘n sak in die kas gehang het. Hy het van een van sy vriende ‘n strikdas gekry en sommer spiekeries gelyk, maar wat sy vir ‘n uitrusting sou doen was sy nog te bang om eers aan te dink.

“Wel Magdalena, ek wil nou nie hê dat jy aanstoot neem nie, en jy is welkom om vir my te sê as my offer onwelkom is, maar voor ons hiernatoe getrek het, het ek en my man gereeld geleenthede in die stad bygewoon. Ek het daardie tyd baie geld aan uitrustings spandeer en soos jy weet het ek nou net hierdie vier seuntjies en niemand om van hierdie uitrustings mee te deel nie.”

Magdalena was maar al te goed vertroud met Mev Theron se seuns, sulke onnutsige orrelpypies, almal nog op laerskool, maar die bekkigste goedjies wat mens goed de joos in kan maak wanneer jy hulle op die skoolgrond raakloop.

“Na klein Jakob se geboorte kon ek nog nooit weer my figuur terug kry nie en van daardie uitrustings sal my nooit weer pas nie. Dis vir my werklik ‘n sonde dat dit nou net so daar hang. Dit sal vir my ‘n eer wees as jy daarna wil loer en as daar ‘n rok of twee is waarvan jy hou en wat dalk vir jou geskik sal wees om na die afskeid aan te trek sal dit my hart baie bly maak.”

“Mevrou?’ Magadalena was uit die veld geslaan en vir ‘n oomblik het sy nie geweet wat om te sê nie.

“Jy kan regtig kom kyk en as jy nie van een van die uitrustings hou nie sal ek nie aanstoot neem nie, ek belowe. Kom stap net saam met my en kom kyk, mens weet nooit. Sommige van die uitrustings is nog net een maal gedra en nog nooit in hierdie dorp nie.”

Steeds uit die veld geslaan het Magdalena Mev Theron gevolg tot in ‘n groot slaapkamer met muur-tot-muur kaste. Min het sy geweet dat daardie dag, daardie oomblik, haar hele lewe sou verander.

Nog nooit het sy so iets gesien nie. In die kaste het rye en rye uitrustings gehang, sommiges toegewikkel in sneespapier en ander onder lang deursigtige plastiek.

“Nou ja, waar sal ons begin? Wat het jy in gedagte gehad vir die geleentheid? ‘n Lang rok? Iets met ‘n bietjie blink? Of miskien iets wat ‘n titseltjjie been wys? Wat is jou gunsteling kleur?” “Ek.. ek.. weet nie, ek het nog nie so daaraan gedink nie…” Magdalena het werklik nog nie daaraan gedink nie, of sal ons eerder se; sy wou nog nie daaraan dink nie.

“Nou ja, dalk iets blou sodat dit jou oe en hare komplimenteer, of hoe?”

Toe Mev Theron die eerste rok uit sy omhulsel haal snak Magdalena na haar asem. Sy het geen idee gehad van watse materiaal dit is nie, maar die sagte, effe blink, lig blou voue van die materiaal het haar onmiddelik laat dink aan ‘n prentjie op die voorblad van een van die tydskrifte onder haar bed.

“Wil jy aanpas of moet ek ‘n ander een eers uithaal?”

Magdalena kon nie betyds haar asem terug kry om te antwoord nie.

“Nou ja, kom ons kyk eers wat is hier nog en dan kan jy besluit watter een jy will aanpas…”

Mev Theron het die een na die ander rok uitgehaal, die een mooier as die ander en Magdalena kon net staan en toekyk en haar natgesweete hande aan haar skoolrok afvee.

“Toe, wat sê jy, watter een gaan ons eerste probeer?”

Sonder om te antwoord lig Magdalena die eerste rok, wat sy kan beetkry, op.

“Goeie keuse, nou nie die een wat ek vir jou sou kies nie, maar kom ons kyk hoe lyk jy, ek voel nogal dat jy my gaan verbaas in daardie rok.” Mevrou Theron se oë het begin blink en Magdalena kon sommer sien dat die vrou uitsien na die aanpassery.

“Die badkamer is net daar deur daardie deur. As jy die rok aan het dan kom jy weer hiernatoe dat ek sien. As jy hulp nodig het dan roep jy net. Goed so?”

Die eerste rok, ‘n olyfgroen gewaad het soos ‘n handskoen gepas, die silwer draadjie om die neklyn en soom het die rok afgerond, maar Magdalena was effe skaam oor die lae hals en oop rug, maar nogtans het sy terug gestap kamer toe en voor Mev Theron gaan draai.

“Dis pragtig Magdalena, jy lyk soos ‘n droom, maar ek dink die rok is te oud vir jou. Dit rem jou effe af en die kleur is nie reg vir jou nie, maar dis nou maar my opinie, wat dink jy?”

“Ek dink ook so Mevrou.”

Teen die derde rok het Magdalena bietjie selfvertroue begin kry en die ekskursie begin geniet. Mev Theron het haar skoene uitgetrek en haarself op die bed rustig gemaak terwyl Magdalena in die een rok na die ander voor haar loop en draai. Teen die derde rok was albei van hulle aan die giggel.

“Nou ja Magdalena, ek kry die gevoel jy het al ‘n idee waarvan jy hou, so watter een gaan ons nou probeer?’

“Daardie bloue, die een wat Mevrou eerste uitgehaal het…”

“O Magdalena, ek kan nie wag om jou in daardie rok te sien nie. Ek het jou al in my drome in daardie rok gesien…”

Toe Magdalena die blou rok oor haar kop gooi het daar iets gebeur. Jare later het sy vertel dat dit was asof ‘n feë haar towerstaf geswaai het en sy van Sussie Rafels in ‘n prinses verander het. Tot vandag toe kon sy nog aan niemand verduidelik wat dit omtrent die rok was wat haar so laat voel het en haar hele menswees so geraak het nie.

Met die rok toegerits het sy voetjie vir voetjie terug gestap tot sy voor Mev Theron gestaan het.

Mevrou Theron het haar asem net een slag skerp ingetrek voor trane oor haar wange begin loop het.

“O Magdalena! Magdalena!’ was al wat sy kon uitkry. ‘n Goeie paar minute later het sy stadig van die bed afgegly en langs Magdalena kom staan. Stadig het sy die rekke wat Magdalena se hare in die poniesterte vas gehou het los gemaak.

“Jy lyk pragtig.” het Mevrou Theron gesug.
“Ek voel soos ‘n feeprinses omhul in wolke Mevrou.”

“Dis jou rok Magdalena, asseblief sê vir my jy sal my aanbod aanvaar en die rok vir jou vat. Dis bedoel vir jou my kind. Asseblief, al besluit jy om dit nie na die matriekafskeid te dra nie… “

“Mevrou, dis die mooiste rok wat ek nog ooit gesien het, ek sal nie iets beter kan kry nie al het my pa miljoene gehad….”Met die noem van haar pa het Magdalena dadelik verbleek, want sy ken vir Jan Sak en Jan Sak aanvaar nie aalmoese nie…

“Ek wil geen ander rok hê of dra nie Mevrou, maar my pa sal dit nooit aanvaar nie…” Trane het in Magdalena se oe opgewel…

“Ons sal ‘n plan maak Magdalena, ek belowe jou. Vir nou sal ek die rok hier vir jou hou tot ons ‘n plan kon bedink.”

“En van watse plan praat julle twee hier, met watse onheilspellende goed is julle hier besig?”

Magdalena ruk soos sy skrik en die trane wat agter haar ooglede gebrand het rol skielik oor haar wange. Verward keer sy met die agterkant van haar hand dat dit op die rok drup. Sy het het nog nooit voorheen die jong man in die dorp gesien nie en van vlug is daar ook geen sprake nie, want hy staan die deur vol.

“Hannes, jou swerkater, wat maak jy hier? Het jou universiteitklasse nog nie begin nie?”

“Ja dit het, maar het Gert nie vir jou gese ek kom die naweek kuier nie?”

“Nee hy het nie. Hy is so besig, hy het seker vergeet. Maar soos jy weet is jou kamer altyd reg vir jou.”

“Nie as ek so om my kyk nie.” lag die jong man.

“Ai waar is my maniere tog… Hannes, dit is Magdalena, een van my matriek leerlinge. Magdalena, dit is Hannes, my man se kleinboet… en pasop vir hom, hy is ‘n laatlam en erg bederf en gewoond om sy sin te kry..”

“Sies vir jou Annemie, ek is ‘n goeie ou… Bly te kenne Magdalena, ek is bly om te hoor jy het so pragtige Afrikaanse naam, ek het byna gedog ek kom hier op die feeprinses van een of ander vreemde land af…”

“En hy is ‘n vleier Magdalena… maar dan moet ek darem met hom saamstem, jy lyk soos ‘n feeprinses vandag my kind.”

Vandag, as Magdalena die storie van daardie dag oorvertel verwys sy altyd daarna as die eerste dag van die res van haar lewe. Die jaar daarna is sy met ‘n beurs universiteit toe en vier jaar later is sy en Hannes getroud. Vir die eerste paar jaar het hulle hard gewerk om hulle eie huis te kan bekostig, maar jaarliks het hulle ook tyd afgestaan om te reis, elke keer na ‘n ander land. Mettertyd het daar kindertjies bygekom en alhoewel Magdalena en Hannes se kinders nooit die armoede en swaarkry van haar kindertyd geken het nie, het Magdalena ook nooit haar eie ouers versaak nie en deur hulle het sy seker gemaak dat die kinders alles wat hulle het waardeer en nooit ophou droom nie.

Copyright
Lynne Lexow

Comments are closed.