RONDLOPERS
“Vandag moor ek..” Willemien gryp die graaf en begin die gate wat oornag in haar tuin verskyn het toemaak.
“Ag nee man, kyk hoe lyk my bolle… ek kan die bleddie goed weggooi…”
“En nou nooi, as sy so met haarself praat?”
“Dis al weer daardie rondloper brak Jakob. Kyk net hoe lyk my tuin en hierdie blombolle kan jy maar gaan weggooi dis stukkend gekou.”
“Dis nie die brak nie Kleinnooi, dit is daardie molletjies, hulle maak so. Ekke dink die hond grawe net agter die molletjies aan Wilmientjie.”
“Molletjies of brak, makie sakie, ek is nou moeg vir die gemors elke oggend. Jy moet vandag nog loop en uitvind wie se brak dit is Jakob. Die mense moet hom by die huis hou of ek gaan hom iets aandoen.”
“Ja nooi, ek sal so maak, maar eers sal ek vir jou hier skoonmaak en weer die hosepipe in die molletjies se gate druk.”
“Nou maak dan so Jakob, ek gaan nou eers vir ons koffie maak en dan moet ek perde toe. Mnr Bester wil die naweek daardie hings kom haal en ek is nog glad nie gelukkig met daardie been van hom nie.”
“is reg so nooitjie. Wil jy nie hê ek moet met die pêrre kom help vanoggend nie?”
“Nee Jakob, ek het niks anders aan vanoggend nie, dus kan ek my tyd vat met die perde. Gaan soek jy vandag nog daardie hond se baas.”
Ou Jakob vat die graaf uit Willemien se hande en begin die verwoeste bedding herstel. Toe Willemien later met haar half gedrinkte beker koffie uitgestap kom lyk die tuin al weer skaflik. Jakob vat die beker koffie dankbaar by haar en sluk die soet brousel amper in een teug weg. Willemien ril elke keer en het al vir Jakob gewaarsku dat hy nog in die hospitaal gaan beland weens suikersiekte.
“Vat sommer ons bekers terug kombuis toe Jakob, ek moet by die stalle kom. As ek nie teen middagete terug is nie sal Hendrika vir julle van gisteraand se pap en vleis opdis, ek het haar klaar gesê.”
Jakob skud sy kop terwyl hy Willemien agterna kyk. Hy en Hendrika is baie bekommerd oor daardie meisiekind. Dit is nou al amper tien jaar vandat ou Meneer dood is en amper vyf jaar sedert daardie sleg Bennie le Grange die pad gevat het. Willemien se ma is in ‘n motorongeluk dood toe sy nog maar skaars tien jaar oud was en saam met ou Meneer het hy en Henrika maar so alleen op die plaas die meisiekind help grootmaak. Wanneer Meneer saans koshuis toe gebel het, het hy altyd vir Hendrika die foon gegee om te hoor wat die nooientjie nodig het teen die naweek se tyd. So het hy
wat Jakob is ook maar altyd die nuus van die dorp af gehoor.
Selfs toe Willemien stad toe is vir die kollege het dit nog goed gegaan. Naweke het sy sommer vir klein Jakob ‘n geleentheid huis toe gegee as hy, as verkeersman, nie aan diens was nie. Dit was goeie tye, maar toe bring sy mos daardie lang derm van ‘n Bennie le Grange huis toe. Hendrika het net haar kop geskud en saans het sy met haar kopdoek se punt oor haar oë gevee en weemoedig voorspel dat daar moeilikheid oppad is.
Willemien en Bennie is toe so jaar of wat later getroud. Wat ‘n fênsie affere was dit nie. Net wit tente, stoele en blomme in die tuin vir so ver as wat die oog kon sien. Daar was tot ‘n tent vol kos en blomme vir hulle en die res van die plaaswerkers. Hulle het tot die paartjie toegesing toe hulle na die diens die paadjie afgeloop het. Hendrika het egter so gehuil dat sy na die eerste paar woorde van die gesang nie ‘n woord verder kon uitkry nie.
Willemien en Bennie het in die groot huis by Meneer kom bly, maar in plaas van op die plaas help het Bennie mos toe sy besigheid op die dorp begin. Iets met beleggings te doen,maar nie lank nie toe kom vertel Hendrika dat een van Bennie se beleggings blonde hare en ‘n ryk pa het. Hy wat Jakob is wou die man sommer doodslaan, maar Hendrika het bly keer en gesê dit is nie hul plek om iets te sê of te doen nie en dalk is dit net ‘n skinderstorie.
Voor enige iemand nog iets kon sê of doen kom die tyding van Meneer se siekte. Die kanker was reeds gevorderd en niemand kon enige iets vir Meneer doen nie. Bennie het Willemien mooi bygestaan en Jakob het begin dink dat Hendrika dalk reg was en dat die dorpsmense sommer los praatjies maak. Na Meneer se dood het hulle gedog dat Willemien dalk die plaas sal verkoop en dat sy en Bennie hulle op die dorp sal vestig, maar so paar maande later het sy al die werkers bymekaar geroep en gesê dat sy nie gaan verkoop nie. Sy het vertel dat sy egter nie kans sien vir die beeste en skape nie, maar dat sy die perdestoetery gaan uitbrei en ook begin afrig. Sy het almal verseker dat daar nog genoeg werk vir hulle almal gaan wees en so was dit ook. Vir Willemien kon mens van kleins af nie van ‘n perd af weghou nie en sommer gou-gou het sy nuwe stalle gebou met die beeste en skape se geld en het haar nuwe besigheid begin floreer.
Al het Bennie elke aand huis toe gekom en het hy naweke daar rond gedwaal of op die stoep met ‘n glasie wyn gesit het, het die werkers hul maar min aan hom gesteur. Dit is nou tot Hendrika vir hom wat Jakob is een oggend kom roep het.
“My man iets is groot fout met Willemientjie, sy wil nie uit die kamer uit nie, wil nie brekfis hê nie. Kom praat jy, toe asseblief ou man.”
“Vrou hoe kan ek? Dis mos ‘n vroumensgoed daardie.”
Voor Hendrika nog kon terugpraat het hy hom na die stalle gehaas om die perde te gaan voer, maar toe hy terug kom wag Hendrika hom reeds met gevoude arms op die stoep in.
“Die kind is nog steeds in haar kamer. Jy kom nou, of ek…”
Jakob het beter geweet as om verder te stry en is die trappies sommer twee-twee op. Voor Willemien se kamerdeur kry hy toe ‘n plan.
“Willemientjie, klein mies, jy moet gou kom, darie merrie lyk vir vul vandag…”
Êrens uit die kamer het hy iets gehoor wat soos ‘n snik klink.
‘Asseblief meisiekind, dis jou duurste teelmerrie en ek het nie geskool in daardie dinge soos jy nie, asseblief kom gou.”
Toe sy uiteindelik die deur oopmaak kon hy sommer sien dat sy lank en hard gehuil het.
“Gaan jy solank Jakob, ek kom.”
Al het hy geweet dat die merrie nog ‘n week of twee oor het het hy geen keuse gehad as om hom terug te haas na die stalle nie. Oppad het hy gou vir Hendrika by die kombuisdeur ‘n duime-op gegooi.
By die stalle het hy hom eenkant gehou en net kort-kort geloer hoe Willemien die merrie bevoel en bevat.
“Jakob, vir wat kom sê jy vir my die merrie is reg vir vul? Dis nonsens man, daardie vulletjie is nog glad nie reg nie.”
“Dis alles Hendrika se skuld, sy het gesê…”
Nog voor hy verder kon praat bars Willemien in trane uit en sak sommer op een van die bale neer.
“Wat is dit nooientjie? Wat is fout? Wat kan ek en ou Hendrika doen om dit beter te maak?”
“Niks Jakob, absoluut niks… dis Bennie, hy kom nie weer terug nie Jakob. Daar’s ‘n vrou op die dorp, ou Vetsak Koos se dogter…”
So was dit dan, Bennie het nog eenkeer plaas toe gekom om die res van sy goed te kom haal. Kort daarna het hy en Hendrika gehoor dat die egskeiding verby is en dat Bennie en die ander vroumens op trou staan.
Nou is dit al vyf jaar en Willemientjie bly alleen. Sy gaan skaars dorp toe. Wanneer hulle moet dorp toe bly sy sommer in die bakkie sit en stuur vir Hendrika met ‘n lysie. Jakob skud sy kop weer, die wêreld het baie verander en die vrou so alleen in daardie kasarm van ‘n huis bekommer hom baie.
Nadat Willemien na die hings se been gekyk het sit sy die stang in sy bek en haak die leisels oor sy kop. Dan lei sy hom na buite.
“Kom ou kêrel, laat ons jou so bietjie opwarm en dan sal ek en jy so entjie moet gaan ry. As jy dit vandag tot by die grondpad kan maak sonder om mank te word kan jy hierdie naweek huistoe, anders is ek bevrees sal Mnr Bester maar tevrede moet wees om jou vir nog so week of twee hier te los.”
Gewoond aan ‘n swaarder ruiter beweeg die hings skaars toe Willemien op sy rug klim. Behendig stuur sy hom deur die oop hek. Eers laat sy hom rustig stap maar toe die grondpad in sig kom hits sy hom aan tot ‘n gallop.
Met die briesie in haar hare en die perd se vaste tred onder haar, begin sy ontspan en laat haar gedagtes dwaal.
Skielik runnik die hings en voor Willemien haar gedagtes na haar onmiddelike situasie kan terug dwing steier die perd onder haar en dan lig hy sy voorpote hoog in die lug. In die breukdeel van ‘n sekonde, voor sy uit die saal gelig word, sien Willemien die slang sy kop lig.
Willemien land met’n slag. Gelukkig het die hings na links weg getrap en staan ‘n paar meter verder met sy hoef en stof kap. Dankbaar dat daar afstand tussen haar en die perd se hoewe is, besef Willemien dat daar ook nou niks meer tussen haar en die slang is nie. Sweet slaan op haar bo-lip uit.
‘n Hond blaf êrens maar Willemien is te benoud om selfs haar kop te draai. Dan sien sy hom, die verdomde rondloper brak wat haar vanoggend so kwaad gehad het. Die hond spring voor haar in en is nou tussen haar en die slang. Die hond se hare staan regop op sy rug en die kwyl loop uit sy bek terwyl hy dreigend en laag grom. Die slang blaas en mik na die hond.
“Ag liewe Here, help tog, vandag is ek en die brak albei dood…”
Die brak bly staan en grom en toe na ‘n laaste mik gee die slang so vinnig pad as wat hy verskyn het.
Willemien wil op, maar haar bene voel soos rubber. Nou draai die hond na haar toe en kom snuffel aan haar, dan lek hy versigtig haar hand en uiteindelik met ‘n vertoning van uiterste brawade gee hy haar ‘n lek deur die gesig. Met haar hand op die hond se rug stut Wilmien haarself tot op haar knieë voor sy stadig regop kom. Die hond bly teen haar bene staan en toe sy na die perd toe beweeg stap hy beskermend langs haar. Die perd het bedaar en asof hy besef wat die hond so pas gedoen het laat hy hom ook nie deur die hond se teenwoordigheid ontstel nie.
Toe Willemien heelwat later huis toe stap is hond se kind nog steeds op haar hakke.
“Ek sien jy het toe sommer self die hond gekry Wilmientjie.”
“Ja Jakob, gaan vra asseblief vir Hendrika om vir hom van daardie pap en vleis te skep terwyl ek hom skuur toe vat vir ‘n goeie bad. Ek dink Hond is hier om te bly Jakob.
Kopiereg : Lynne
