Sy wil net ‘n flokken pop hê
Dit het twee jaar laas gereën, die grond is dor en kliphard. Net ‘n paar vetplante en kaktusse klou nog teen wil en dank aan die lewe vas. Die huis kort ‘n laag verf en die ruit wat deur kwajongens uitgegooi is, is met ‘n stuk plank toegeslaan. In die yskas is net ‘n halwe liter melk en ‘n halwe polonie waarvan die rante al kliphard is. Daars lankal nie meer konfyt vir die brood nie en sy doop maar die roosterbrood so droog in haar soet koffie – bliksem, wie kan dan nou nog Ouma beskuit van Kies en Betaal bekostig?
Haar hare is lanklaas gesny en van kleur is daar nie sprake nie en sy sweer, as sy eendag weer kleur kan bekostig, kleur sy dit blou of groen. Haar oogtand se kroon het een nag uitgeval en nou glimlag sy vir niemand meer nie. ‘Old Faithfull’ kort nuwe bande en van sy uitlaatpyp is net die ‘brackets’ oor. Vlok, sy sal nooit weer iemand kan bekruip nie. Daar is net een paar ordentlike skoene in die huis wat hulle almal moet deel, en die is al meer as 10 jaar oud. Gelukkig kon sy destyds regte leer bekostig en die nuwe sole was nie te duur nie… maar sy wil ‘n flokken pop hê.
Die heining lê slap en die voëltjies kry nie meer broodkrummels nie. Groenseep dien ewe goed vir vuil wasgoed en hare. Die klein buisie Mendadent staan eensaam op die bad se rand…maar sy wil ‘n flokken pop hê. Haar kwaste het stil gaan staan en die naaimasjien naai nie meer nie…maar sy wil ‘n flokken pop hê. Hoe kan enige iemand dit verstaan? Dis ook nie ‘n ‘hoe-sê’ pop van Pep Boutique nie, maar een van daardie ‘realborn/newborn’ goete wat soos regte babas lyk. Adriaan Vlok en donner bliksem, daardie ding se geld kan mos regmaak wat krom is. Maar wat krom is is haar siel, so krom en nutteloos soos ‘n boog sonder ‘n pyl. Haar kinders is soos mostertsaadjies in die westewind die wêreld vol versprei en die ‘fandamily’ dink sy is die grap van die eeu, heel gek en net ‘n ‘siestog’ werd. Maar sy
worrie nie, sy wil net ‘n bleddie pop hê…
Haar woorde en gedagtes loop stil in deurmekaar letters op papier oor, want praat is nie meer die suurstof en moeite werd nie. Haar hart is so leeg soos haar bankrekening, maar nogtans wil sy daardie bleddie pop hê…. In haar laaikas lê wit en geel blokkies gebrei, reg om in daardie kombersie gemaak te word. Iewers onder in ‘n kas, of tas, is nog ‘booties’ en ‘n halwe doek. Haar arms is leeg en haar bed is koud en skielik weet sy waarom sy daardie verdomde pop wil hê…
Kopiereg : Lynne 2019
